Skip to content

‘n Wafferse Woeste Lewe

rat
The rat in my roof. Oh yes.

The blog drought has not been broken just yet… But in the meantime, here’s a piece I had to write for a amateur writers’ conversation thing I had to facilitate. It’s in Afrikaans though – get your dictionaries ready!

“Ek dink nog altyd my lewe kort ‘n bietjie die woes-faktor. Die spreekwoordelike white picket fence is nou nie juis inspirasie genoeg om iewers soos ‘n wafferse Tom Cruise van ‘n krans af te hang nie…

Vir ‘n ruk lank het dit my nogal gepla. Waar was die lus vir avontuur, die drif om eendag met een voet op Everest en die ander op ‘n olifant in Indië se rug te staan?

Maar die afgelope ruk het ek my fokus bietjie verskuif… As’t ware by huis en haard gaan soek vir die woes. En dit toe wraggies gekry…

Daar’s ‘n rot in my dak. Waarskynlik so groot soos ‘n Jack Russell – die girts-geluide snags is ‘n goeie leidraad. Maar gisteraand het die rot spoed opgetel. Ek was vas oortuig die ding gaan deur die dak kou en rooiogig vir my staar terwyl stukkies kwyl en plafon uit sy bek uit drip. Hoe later hoe kwater, en uiteindelik draai Haar Hoogheid Peroni haar groot, senuweeagtige katoë in my rigting met ‘n kyk wat duidelik sê: “woes!”

Die ander aand oefen ek en my ander masochistiese klasmaats ons Muay Thai moves. Dis ‘n yskoue klas met ‘n yskoue vloer en tussen die kreune en steune van sakke slaan en koppe skop bibber en trippel ons almal rond om so min as moontlik kontak tussen die vloer en ons tone te kry. En aan die einde staan ons rond en hyg, kyk moeg vir mekaar en knik… Met die wolkies stoom wat om ons koppe dwarrel… “Woes… woes… woes…”

Vroegoggend by Oppikoppi vergader ek en my ander Mordor tentmaats met ‘n koppie koffie in die een hand en wetwipes in die ander, aan’t staar na die tent net hier neffens ons s’n. Hy ruk en hy skud en gee stadig agterstevoor geboorte aan ‘n bleek paar boude ingeprop in pers skinny jeans met ‘n doringboom-skraapmerk so half skuins oor die linkerboud. En my vriend skuif sy donkerbril tot op sy voorkop, vat ‘n sluk koffie en seg: “Woes, ek sê.”

My vriendin Jennifer se sesde sintuig ruk haar in die middel van die nag wakker, want daar’s ‘n man buite haar venster besig om na haar te staar. Sy gil nie, sy vries nie in vrees nie. Sy spring op en gryp haar pepper spray en storm op die venster af met ‘n woeste oorlogskreet. Die man skrik hom skoon weg en Jennifer lê die res van die nag wakker. Sy’s net ‘n mens… Maar sy’s ook woes.

Die taxi waarvoor ek nie padgee nie. My vriend Angola wat so maklik woes met iets anders kan laat rym. Vars tamatie op ‘n pizza vir iemand wat dit nie kan verdra nie. Die koue in Clarens. Malema se nuutste bon mot. Die boemelaar wat sit en bewe onder die Randburg taxibrug. Die hotnotsgot op my laventelbos wat die bye so uitsorteer. Die verkoue wat vandag dreig om my brein by my ore uit te druk. Woes. Alles woes.

My middelsussie wat haar twee dogtertjies grootmaak so tussendeur die pienk kombersies en bottels en Finding Nemo en Naughty Corner en fyngekoude uitgespoegde wors en kryt op die bank… En sy hou haar pose. Sy paai en troos en raas en lag… En as sake bietjie rof raak, maak Die Oog ‘n verskyning. Die Oog laat trane ophou, laat kos in magies land, laat ‘n kortstondige stilte neerdaal… En ek kyk die storie so en dink… My sussie. Sy’s woes!

My jongste sussie wat nie ‘n tree terugstaan vir skinny jeans of tequila uitdeel in ‘n kroeg vol orige mansmense nie. My ma wat kaalhande die tuin aanpak en hervorm op ‘n maandelikse basis. My pa wat ten spyte van vier kekkelende vroumense nogsteeds sy gehoor en sy skroewe het.

Daar’s wafferse woeste mense daar buite… Maar daar’s net een wat die Woes kroon vat. My sogenaamde ander helfte wat ten spyte van kreatiewe tantrums en my fiemies vir tamaties en my stilstuipe en my voorliefde vir lees bo skottelgoed nogsteeds elke dag wag met ‘n glimlag op sy gesig. Hy’s woes. My woes.

Share this post: Share this post with the world.
  • Facebook
  • StumbleUpon
  • Google
  • laaik.it
  • Twitter
  • Reddit
  • LinkedIn
  • Digg
Published inPersonal ramblings

2 Comments

  1. Lindi (Meagan se kamermaat van Skoonveld) Lindi (Meagan se kamermaat van Skoonveld)

    Hi Donnay. Ek het die artikel oor jou Pa gelees, so pragtig… En toe bietjie hier op jou blog ge”browse” en op hierdie afgekom… So cool geskryf! Skets ‘n perfekte prentjie in mens se kop van hoe alles moes lyk toe dit afgespeel het 🙂 Sterkte met jul Pa – ons hoop hy word weer “as good as new”…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *